S  U  I  D  -  A  F  R  I  K  A

Die Groot Vyf van Suid-Afrika is die leeu, luiperd, renoster, olifant en kaapse buffel. Hierdie ikoniese diere is oorspronklik deur jagters gekiet as die moeilikste en gevaarlikste diere om te voet te jag. Vandag is hulle die hoofattraksie vir safaritoeriste in die Krugerwildtuin en verskeie private reservate. Hulle dwing respek af deur grootsheid, grasie en geringe getalle; pryk op ons land se geldnote; én is op duisende jagters en toeriste wêreldwyd se emmerskoplysie (al daardie avonture en doelwitte wat jy wil afmerk voordat jy jou laaste asem uitblaas) van wilde diere om van nader te bekyk en te leer ken. Al is sommige van die Groot Vyf-diere wel baie groot, soos die renoster, buffel en olifant, het dié benaming eintlik niks met hul fisieke grootte te doen nie. Dié besonderse groep diere het die Groot Vyf-titel te danke aan die feit dat hulle enersyds moeilik is om te jag of selfs net in die bos te gewaar en andersyds omdat hulle sonder uitsondering baie gevaarlik is. Vir baie jagters was dit ’n baie groot prestasie as hulle een, of dalk selfs al vyf, van hierdie diere met ‘n boog of ‘n geweer kan plattrek. Gelukkig wil almal wat na Suid-Afrika stroom om die Groot Vyf te sien, hulle darem nie jag nie. Met die getalle van dié diere, veral die renoster, wat aansienlik minder is as ‘n paar jaar gelede, is die voorreg om een in die bos te gewaar, reeds ‘n reusebeloning! Om nie te praat van die seldsame geleentheid om een met jou kamera vas te vang nie!

Olifant. Die grootste landsoogdier, bekend vir hul sosiale struktuur en intelligensie. Die Afrika-olifant kom voor in die deel van Afrika suid van die Saharawoestyn, gewoonlik in savannes, woestyne en riviervalleie, asook in sommige woude, soos die Knysna-woud. Olifante word bedreig deur wilddiewe wat hulle jag om hulle ivoortande in die hande te kry. Een olifant kan tot 300 kg se gras, bas, takke en blare in een dag verorber, en hulle drink sommer tot 190 liter water per dag. Olifante is die grootste soogdiere op aarde. ’n Baie interessante deel van ’n olifant is sy slurp. Hierdie liggaamsdeel is baie nuttig. Hy kan daarmee vrugte optel óf afpluk, en ook blare afpluk. Hulle drink ook water met hulle slurpe en suig water daarmee op waarmee hulle hulself natspuit om af te koel. ’n Slurp bestaan net uit spiere en bevat geen bene nie. Afrika-olifante is baie goed by hulle omgewing aangepas. Hulle vel is byvoorbeeld meer as 2 cm dik om hulle teen skerp dorings te beskerm. Hulle groot ore help hulle om hitte te versprei en om hul liggaamstemperatuur te reguleer. Hierdie ore kan tot 2 m x 1,2 m groot word – dit is amper so groot soos ’n dubbelbed en tot 20 kg weeg. Olifante kan tot 3 meter hoog word en tot 7 ton weeg. ’n Olifant lyk wel lomp en groot, maar moenie dink dat hulle teen ‘n slakkepas beweeg nie. Wanneer daar gevaar dreig of wanneer die diere skrik, kan hulle tot 40 km per uur hardloop. Olifantkalfies word baie goed deur al die olifantkoeie in die trop opgepas, en wanneer daar gevaar dreig, sal die hele trop beskermend rondom die kalfies gaan staan. Afrika-olifante kan oor lang afstande met mekaar “gesels” met geluide waarvan die frekwensie só laag is dat mense dit nie kan hoor nie. Daar is plante waarvan die sade deur olifante se spysverteringstelsels moet beweeg voordat dit kan ontkiem. In Wes-Afrika is ongeveer een derde van die woude afhanklik van olifante om op dié manier te kan voortbestaan.

Renoster. Daar is twee soorte, die witrenoster en die swartrenoster. Onder die soogdiere is dit net die olifant en seekoei wat groter is as ’n renoster. Albei soorte renosters het twee horings, maar die vorm van hulle bekke of lippe verskil. Renosters se horings kan tot 1,52 meter lank word. Die swartrenoster het ʼn lang, gepunte bolip, en die witrenoster se bek is wyer. Renosters kan tot 2 500 kg weeg, en hulle kan tot 40 jaar oud word. Renosters eet growwe gras en het baie water nodig om hul kos te verteer. Hulle moet ten minste een keer per dag water drink. Renosters rol nie net in die modder rond nie, maar eet selfs soms van die einste modder! Die modder beskerm hulle teen die son, help hulle om af te koel en help ook om hulle teen parasiete te beskerm. Dit bevat ook minerale wat die renoster in sy dieet nodig het. ‘N witrenosterkalf hardloop altyd voor sy ma uit wanneer gevaar dreig. Die swartrenoster se kalf hardloop weer agter die ma aan wanneer daar gevaar is. Renosters kan nie goed sien nie. Soms gebeur dit dat hulle ’n rots of ’n boom sal storm en “aanval” omdat hulle nie kan sien wat dit is nie! Hulle kan wel baie goed hoor en ruik, en dit vergoed vir hulle swak sig. Witrenosters is eintlik glad nie wit nie! Hulle is inderwaarheid gryserig-bruin. Hulle naam kom van die Nederlandse woord wijde wat “wyd” beteken omdat hulle bekke wyer is as dié van swartrenosters. Dit het toe vir mense geklink soos “white”, en dit is waar die naam ontstaan het.

Leeu. Bekend as die "koning van die diere" en 'n simbool van krag. Leeus is die enigste van ongeveer 38 katagtige spesies wat verkies om in troppe te leef. ’n Volwasse mannetjie kan tot 250 kg weeg. In ’n trop leeus is daar gewoonlik een senior mannetjie wat die hoof is van die trop. Verder bestaan die trop uit wyfies, kleintjies en jonger mannetjies. Leeus kan baie hard brul! Hulle doen dit gewoonlik ná sononder, nadat hulle iets gevang het en ook nadat hulle klaar gevreet het. Buiten die brulgeluid, maak hulle ook agt verskillende bromgeluide en ’n hele paar spin-, tjirp- en tjankgeluide. Leeus jag gewoonlik snags, en dit is dikwels die wyfies wat die jagwerk doen. Wanneer hulle iets gevang het, eet die mannetjies eerste. Hoewel hulle meestal bokke en sebras eet, sal hulle selfs insekte eet. Wanneer die wyfies jag, kan hulle tot 30 km ver hardloop. Leeus het nie werklik natuurlike vyande nie – hul enigste vyand is jagters. Dit gebeur egter tog dat leeuwelpies deur ander roofdiere soos hiënas, luiperds en wildehonde doodgemaak word. 

Kaapse buffel. 'N uiters gevaarlike en onvoorspelbare dier, veral as hulle gewond is. Buffels se horings is in die middel aan mekaar verbind sodat dit soos ’n helm om sy kop lyk. Beskermende kopbedekking wat gewoonlik deur motorfietsryers of mynwerkers gedra word om hulle koppe teen beserings te beskerm. Jagters beskou die buffel as een van die gevaarlikste wilde diere om te jag. ’N volgroeide buffelbul kan tot 920 kg weeg. Buffels is tropdiere, en een van die koeie is gewoonlik die leier van die trop. Wanneer daar gevaar is wat ’n buffeltrop bedreig, beweeg al die koeie en kalwers na die middel van die trop en die bulle staan aan die buitekant van die sirkel om die koeie en kalwers te beskerm. Mense dink gewoonlik dat die leeu en die luiperd die gevaarlikste diere onder die Groot Vyf is, maar eintlik sê kenners dat die buffel die gevaarlikste is. Hulle is onvoorspelbaar, en hulle buie is temperamenteel, dit kan vinnig verander. Die ouer bulle kan baie maklik kwaad word en dan is hulle natuurlik baie gevaarlik. Buffels se grootste vyand is leeus. Wanneer ’n buffel deur leeus gevang word, sal die res van die buffeltrop hom probeer red. Mense het al gesien hoe buffels selfs ’n leeu doodgemaak het nadat die leeu ’n buffel gevang en doodgemaak het.

Luiperd. Die luiperd het swart kolle wat amper soos blommetjies op ’n geelgoue vel lyk. ’N luiperd se stert het ’n wit punt. Hulle is groter en stewiger gebou as die jagluiperd. ’N luiperd se kop en lyf is 1,6 tot 2,1 m lank, en sy stert is ongeveer 1 m lank. Luiperds pas hulle dieet aan wanneer kos skaars is. Hoewel hulle gewoonlik kleiner boksoorte eet, eet hulle ook dassies, bobbejane, reptiele en selfs vis. Wanneer dit nodig is, eet hulle selfs insekte en knaagdiere. Luiperdwyfies kry twee tot drie welpies op ’n slag. Hulle word goed weggesteek vir ander roofdiere wat hulle sal vang as hulle die geleentheid kry. Hulle bly ook vir die eerste jaar van hulle lewe by die wyfie terwyl sy hulle leer om in die natuur te oorleef. ’N luiperd kruip gewoonlik weg in die dag en jag in die nag. Hy wag sy prooi in, bespring dit en byt dit aan die keel dood. Luiperds kan goed boomklim en steek dikwels hulle prooi in ’n boom weg om dit teen ander roofdiere te beskerm. Dink hoe sterk moet ‘n luiperd wees om ’n bok tot bo in ’n boom op te trek. Luiperds is allesbehalwe “lui perde”! Hulle kan tot 56 km per uur hardloop en tot 3 m hoog in die lug spring. Die luiperd is ’n nagdier en bly gedurende die dag in skuilplekke. Hulle is ook alleenlopers en is die een dier van die Groot Vyf wat die minste gesien word.